Eenmansaak

Die eenmansaak (ook genoem alleeneienaar en alleenhandelaar) is die oudste en gewildste ondernemingsvorm. Dit is 'n onderneming wat aan 'n enkele persoon behoort wat sy eie kapitaal voorsien of 'n gedeelte daarvan leen. Die eienaar dra self alle risiko's, neem al die winste, en bestuur gewoonlik self die onderneming met of sonder hulp. Dit is geskik vir veral 'n klein onderneming wat doeltreffend deur een persoon bestuur kan word, soos 'n kafee, slagtery, bloemis, loodgieter, elektrisiën, ensovoorts. Die eenmansaak het nie 'n regspersoonlikheid nie. Die bates van die eenmansaak behoort aan die eienaar, en die eienaar is persoonlik aanspreeklik vir alle laste en aanspreeklikhede.

Die alleeneienaar bestuur self die onderneming, maar stel soms 'n bestuurder aan om die onderneming te bestuur. Die vermoë van die eenmansaak om kapitaal te bekom, hang van die kredietwaardigheid van die eienaar af. Indien die eienaar nie toegang tot genoeg geld het nie, kan 'n gebrek aan kapitaal die groei en uitbreiding van die onderneming aan bande lê.

Die wins of die verlies van die onderneming is vir die rekening van die eienaar. Die eenmansaak betaal as 'n individu belasting op die wins van die onderneming.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search